Wednesday, November 16, 2011

Dwelmwolk oor 7de Laan

Johannesburg – ’n Donker wolk van omstredenheid hang oor die gewilde TV-sepie 7de Laan.

Sekoati Tsubane, wat die rol van Kabelo Padi vertolk, het onder meer op Twitter gesê dis van dagga dat hy so baie gewig verloor het.

Hy is ook bekend om die Castle Light-bier-advertensies waarin hy speel. Die akteur het op Twitter uitgevaar oor 7de Laan, waarin hy jare lank gespeel het. Sy betaling is “k@k”, het Tsubane gesê.

“Ek is moeg daarvan om die dwaas in ’n vreemde taal te speel.”

Boonop is Tsubane en Werner Coetser (wat die rol vertolk van Bernard Jordaan in die SABC2-sepie) glo deur verskeie mense gesien by een van die berugste dwelmhuise in Manenberg op die Kaapse Vlakte.

Manenberg is een van die Kaap se gevaarlikste woonbuurte. Inwoners kon skaars hul oë glo toe eers die een en later die ander sepiester per motor by die tikhuis stilgehou het, is aan Rapport gesê.

Coetser (23) het bevestig hy wás daar, maar het nie geweet dit is ’n smokkelhuis nie.

Janis Ellis, Tsubane se woordvoerder, sê hy kan nie onthou dat Tsubane daar was nie.

Ellis sê sy kliënt ontvang tans terapie, maar sê dis nie vir dwelmafhanklikheid nie. Dit is om die onlangse dood van sy baba te verwerk.

Die eersteling van Tsubane en Zoleka Mandela, kleindogter van oudpres. Nelson Mandela, is in Junie drie maande te vroeg gebore.

Tsubane het op Twitter gesê hy wil huis toe gaan ná werk, want dan is dit tyd vir ’n spliff (sleng vir ’n dagga-sigaret).

Ellis ontken dat Tsubane dwelms misbruik. “Hy sal ’n openbare dwelmtoets doen om dit te bewys.”

Oor 7de Laan het Tsubane verder só uitgevaar: “Ek het ’n verhoging vir die k*k nodig.

“Hoe lank kan ek dit nog uithou!”

Tsubane, wie se uittrede uit die sepie reeds aangekondig is, het later verskoning gevra vir dié tirade.

Sy nuwe loopbaan as sanger is voorgehou as rede vir sy uittrede. Hy is tot 1 November in die sepie te sien en sal daarna nog op ’n vryskutbasis verskyn.

Tsubane was in Augustus in Kaapstad om sy komende CD te bemark toe hy glo by die dwelmhuis gesien is.

Volgens bronne het Coetser in Junie met ’n bestuurder in ’n swart motor voor die tikhuis stilgehou.

Die sepiester het handtekeninge en drukkies uitgedeel, sê die bronne wat naamloos wil bly uit vrees vir hul ­lewe.

Daarna het Coetser glo saam met ’n tikverkoper in die motor geklim.

Dié werk vir een van die berugste dwelmhandelaars in die Kaap. Die twee is daarna na Club Galaxy, ’n nagklub in Rylands, Athlone.

Liby Nel, 7de Laan-woordvoerder, sê Coetser is verstom om te hoor dat dit ’n tikhuis is.

Die Manenberg-bron sê “Kabelo” was in Augustus ook by dié huis.

“Hy was in dieselfde kar met dieselfde bestuurder. Die tikverkoper het uitgekom, in die motor geklim en saam met Kabelo daar weggery.”

Volgens die bron het Tsubane nie uitgeklim nie en hy en die tikverkoper is toe na Galaxy.

Volgens bronne het van Tsubane se mede-akteurs begin wonder oor sy skielike gewigsverlies.

Hieroor het hy vroeër vanjaar aan die tydskrif Drum gesê dis omdat hy opgehou het om die gratis Castle Lite-bier te drink wat hy as deel van sy vergoeding vir dié advertensies gekry het.

Nel sê oor Coetser se Manenberg-besoek: “Hy was genooi na ’n geselligheid die aand by ’n klub. Die veiligheidswag wat hom geneem het, wou eers êrens stop. Hulle het toe ’n man opgelaai.”

Coetser sê die veiligheidswag het gesê hy moet saam ingaan, want in dié gebied is dit gevaarlik om alleen in ’n motor te sit.

Het hy geweet dit is ’n tik-nes, sou hy nooit ingegaan het nie, sê Coetser.

Die bestuurder van Club Galaxy, Andy Heyns, sê hy is die bestuurder van ’n swart Toyota Corolla wat Coetser en Tsubane na en van dié klub vervoer het.

Hy sê egter hy sal hulle nooit na Manenberg toe neem nie.

Toe Rapport die tikverkoper vra of Tsubane-hulle by sy huis was, het hy geantwoord: “Dis te ingewikkeld.”

Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport